Alles in die Verloop van Diensplig

Mev Nel is ‘n pensionaris wat op ons stadsroete bly. Sy is netjies en ordelik, vriendelik en altyd baie dankbaar vir die hulp wat sy ontvang. Mev Nel het ‘n massiewe skildkliervergroting wat baie ongemak veroorsaak. Verlede week het sy nie baie goed gevoel nie en daarom het sy ‘n vriendin gevra om kontant uit haar rekening te trek by die plaaslike OTM. ‘n Klein rukkie later het die vriendin teruggekeer met die nuus dat daar nie geld in haar rekening was nie. Mev Nel het die bank gebel en hulle het bevestig dat haar ‘vriendin’ haar hele pensioen getrek het. Hierdie goeie vriendin het intussen verdwyn.

Verslag van Magnoliahaven Dienssentrum
Ons verskaf etes aan ‘n enkel-ma op ons Sunnyside roete. Onlangs het die Staatswelsyn gedreig om haar baba van drie weke in hulle sorg te neem aangesien sy geen finansiele middele gehad het om na haarself en die kind om te sien nie. Hierdie jong mamma kon nie die moontlikheid dat sy haar baba kan verloor, in die gesig staar nie. Sy het ‘n pleidooi aan Mobiele Etes gerig vir hulp. Sy was onmiddelik op ons afleweringsskedule geplaas en die span vrywilligers het gou ‘n goeie voorraad klere, toiletware, weggooidoeke en kombersies vir die baba bymekaargemaak. ‘n Verteenwoordiging is gerig tot die Staatswelsyn Departement en hulle het ingestem dat hierdie jong moeder toesig oor haar baba kon behou. Die vader van die baba het ook intussen ingestem om maandelikse ondersteuning te voorsien.

Verslag van Eileen Els – Pretoria
Mev K. het nooit etes van Mobiele Etes ontvang nie, maar sy het gebruik gemaak van die gratis vervoerdiens. Elke week sou ons bestuurder haar hospitaal toe vervoer en dan weer terugneem huistoe. Verlede week het die bestuurder opgemerk dat Mev K. baie onvas op haar voete was. In plaas daarvan om haar terug te neem huistoe, het hy haar na die Mobiele Etes Dienssentrum gebring waar die verpleegpersoneel aan diens was. Hulle het ontdek dat Mev K baie ernstig ondervoed was. Behalwe dit, het haar verhouding met haar seun ook baie spanning veroorsaak. Ons het Mev K. oorreed om aansoek te doen vir ‘n pensionaris – woonstel. Die aansoek was suksesvol en die Mobiele Etes vrywillige helpers het haar bygestaan om haar besittings te vervoer. Ons lewer nou, op ‘n gereelde basis, warm, voedsame etes by haar huis af en is in ons skik om te laat weet dat sy nou ‘n heel ander mens is. Haar gesondheid het grootliks verbeter en selfs die verhouding met haar seun is stukke beter.

Verslag van Brooklyn Dienssentrum
Oppad werk toe het my vrou, Dienssentrum direkteur van Kimberley, ‘n ou man, Piet, opgelaai. Hy het net een been gehad en het met ‘n ou gehawende kruk aangesukkel. Hy het vertel dat hy oppad was om sy pensioen te gaan haal en daarna sy medisyne by die hospitaal. My vrou het hom gevra waar hy woon en hy het geantwoord: “Op my plaas.” Nadat hy al sy sake afgehandel het, en nadat my vrou ‘n paar splinternuwe krukke vir hom georganiseer het, was dit my voorreg om hom terug te neem na sy huis toe. Sy ‘plaas’ was toe al die tyd ‘n groot boom in ‘n oop veld. Vir bykans ‘n jaar het ons vir Piet etes op sy ‘plaas’ afgelewer. Uiteindelik was ons in staat om hom met sy suster te herenig wat ingestem het om hom by haar aan huis te neem.

Tak Nuus

MOORREESBURG TAK:
Dit gee ons groot vreugde om die Moorreesburg tak by die Mobiele Etes – gesin to verwelkom. Hierdie tak bestaan nog net vir ‘n klein tydjie, maar hulle het alreeds ‘n groot taak verrig. Hulle doel vir 2006/2007 was om 15 000 etes en voedselpakkies uit te deel asook R12 000 se klerasie. Hulle het dit reggekry om 15 307 etes en voedselpakkies uit te deel en meer as R30 000 se klerasie. Wel gedaan, span! Hierdie tak het nie ‘n Mobiele Etes voertuig nie en alle etes word met privaat motors afgelewer. ( Donasies vir ‘n nuwe of gebruikte voertuig sal met dankbaarheid ontvang word.) Ons vertrou dat hierdie tak spoedig ‘n meer geskikte lokaal sal vind.
Verslag van Bertus Brand

GEORGE MOBIELE ETES:
Hierdie tak wil graag ‘n spesiale woord van dank aan die inwoners van George rig vir hulle oorweldigende ondersteuning. Spesiale dank gaan ook aan die plaaslike vulstasies wat al die brandstof skenk wat nodig is om Mobiele Etes in die dorp te bedryf. Hierdie tak het ‘n dringende behoefte vir ‘n groter stoof. Is daar iemand wat kan help?
Verslag van Mrs Fourie

KIMBERLEY MOBIELE ETES:
By Diakim dienssentrum het ons te hore gekom van ‘n jong VIGS-lyer wat besig was om te sterf van honger en glad nie kon loop nie. Hy het as ‘n uitgeworpene in ‘n plakkerhuis gewoon. Ons het dadelik gereël om etes by hom af te lewer. Binne 2 weke was hy op en aan die gang en het baie beter en sterker gevoel. Hy het nog ‘n jaar en ‘n half geleef voordat hy gesterf het. Diakim dienssentrum het die begrafnisreëlings getref, ‘n begrotings begrafnis voorsien en ook die spyseniering vir vriende en familie verskaf.

In Ligte Luim

Kinderwysheid
• Toe die negejarige Mike gevra is wat meeste mense op hul eerste afspraak doen, het hy gesê: “Met die eerste   afspraak vertel hulle soveel leuens aan mekaar dat dit hulle genoeg interesseer sodat hulle ‘n volgende afspraak   maak.”
• Die agtjarige Kathy is gevra wanneer dit gepas is om iemand te soen. Sy het só gereageer: “Moet nooit voor   ander mense soen nie. Jy sal erg in die verleentheid wees as iemand jou sien. Maar as niemand jou sien nie, sal   ek dalk gewillig wees om dit met ‘n aantreklike seun te probeer, maar net vir ‘n paar uur.”
• Toe hy gevra is of dit beter is om enkel of getroud te wees, het die sewejarige Kenny geantwoord: “Dit gee my ‘n   kopseer om aan sulke goed te dink. Ek’s net ‘n kind. Ek het nie dié tipe moeilikheid nodig nie.”
• Toe hy gevra is waarom mense verlief raak, het die negejarige Jan geantwoord: “Niemand is seker waarom dit   gebeur nie, maar ek het gehoor dit het iets te doen met hoe jy ruik. Dis waarom parfuum en reukwaters so gewild   is.””

Alzheimer's Op Sy Beste
‘n Bejaarde egpaar het aandete genuttig by ‘n ander egpaar se huis. Na ete het die dames die tafel verlaat en kombuis toe gegaan. Die twee mans het gesels en die een sê:”Gisteraand het ons gaan eet by ‘n nuwe restaurant en dit baie geniet. Ek kan dit beslis aanbeveel.” Die ander man sê: “Wat is die naam van die restaurant?”

Die eerste man het gedink en gedink en toe sê hy: “Wat is die naam van die blom wat mens vir iemand gee wat jy liefhet? Jy weet … die rooi een met die dorings?”

“Jy dink seker aan ‘n roos.”

“Ja, dis die een,” antwoord die man. Hy draai toe na die kombuis en roep, “Rose, wat is die naam van die restaurant waar ons gisteraand geëet het?”

Die Gehoorstel
‘n Bejaarde man het reeds vir ‘n aantal jare ‘n ernstige gehoorprobleem gehad. Hy gaan toe na die dokter en laasgenoemde help hom om ‘n gehoorstel te kry wat hom in staat stel om byna ‘n honderd persent te hoor. ‘n Maand later keer die bejaarde man weer na die dokter toe en die dokter sê: “Jou gehoor is perfek. Jou familie moet regtig bly wees dat jy weer kan hoor.”

Die bejaarde man antwoord: “O, ek het nog nie vir hulle gesê nie. Ek sit maar net daar rond en luister na hulle gesprekke. Ek het my testament al drie maal verander!”

Nagmaal op die Vuilgoedhoop
Die vrywillige helpers in Kimberley bring gereeld etes na die + – 150 mense wat by die stad se vullisgate bly. Een dag, terwyl ons die vullisgate nader, hoor ons een van die manne skree so hard as hy kon – “Manne, hier kom ons nagmaal!”

Flous die Tandemuis
Terwyl ek vir ‘n organisasie gewerk het wat etes vir bejaardes afgelewer het, het ek gereeld my vierjarige dogtertjie saamgeneem. Sy was altyd geboei deur die verskillende hulpmiddels wat deur bejaardes gebruik word, veral die kieries, loopringe en rolstoele. Eendag, terwyl ons ‘n bedlêende pensionaris besoek het, het ek haar betrap waar sy staar na ‘n stel valstande wat week in ‘n glas water. Buite het ek my gestaal teen die onvermydelike bombardement van vrae. Sy het egter net na my gedraai en gefluister, “Die tandemuis sal dit nooit glo nie!”

Merkwaardige Pittighede
Die swakkeling kan nie vergewe nie. Vergifnis is ‘n eienskap van die vasberade.
Mahatma Gandi

Die beoefening van vergifnis is ons belangrikste bydrae tot die genesing van die wêreld.
Marianne Williamson

Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit gee jou iets om te doen, maar dit bring jou nêrens.
Glenn Turner

Gesondheidswenke
Neusbloei: Voeg ‘n bietjie sout of suurlemoensap by koue water en snuif liggies in die neus.

Hikbuie: Hou jou asem so lank as moontlik op en sluk elke keer as dit voel of jy wil hik. Doen dit 2 - 3 maal. Haal dan diep asem en begin weer.

Sonbrand: Masseer aalwyn salf (aloe vera) of teeboom olie aan die vel wat gebrand het.

Inligting met vriendelike vergunning van ‘Natural Remedies’ Ensiklopedie

Dankie aan Almal
Ons opregte dank aan elkeen van ons ondersteuners. Julle het julleself weereens hierdie jaar oortref – dienslewering, ons uitbreiding na nuwe gebiede en ons vermoë om meer en meer mense, bo en behalwe die bejaardes, te help.

Vir die derde opeenvolgende jaar het ‘Flight Centre’ ‘n wonderlike bedrag van R48 000 in die vorm van Pick ‘n Pay geskenkbewyse aan Mobiele Etes geskenk. Hierdie geskenkbewyse was verdeel tussen die Mobiele Etes takke.

‘n Groot dankie aan al die ‘Curves’ gymnasiums wat vragte nie-bederfbare voedsel aan Mobiele Etes geskenk het.

Dankie – Dankie – Dankie

Waarneming

deur George Carlin

Die paradoks van ons tyd in die geskiedenis is dat ons hoër geboue het, maar korter humeure, breër snelweë, maar enger sienswyses. Ons spandeer meer maar het minder, ons koop meer, maar geniet minder. Ons het groter huise, maar kleiner gesinne, meer geriewe, maar minder tyd. Ons het meer grade, maar minder begrip, meer kennis, maar minder oordeel, meer deskundiges, maar tog meer probleme, meer medisyne, maar minder gesondheid.

Ons drink te veel, rook te veel, spandeer te roekeloos, lag te min, ry te vinnig, word te kwaad, bly te laat wakker, staan te moeg op, lees te min, kyk te veel TV en bid te min. Ons het ons besittings verdubbel, maar ons waardes verlaag. Ons praat te veel, het te min lief en haat te dikwels.

Ons het geleer om ‘n bestaan te maak, maar nie om te lewe nie. Ons het jare by ons lewens gevoeg, maar nie lewe by ons jare nie. Ons is al die pad maan toe en terug, maar vind dit moeilik om oor die straat te stap om ‘n nuwe buurman te ontmoet. Ons het die buitenste ruim verower, maar nie die innerlike ruimte nie. Ons het groter dinge gedoen, maar nie beter dinge nie.

Ons het die lug gesuiwer, maar die siel besoedel. Ons het die atoom verower, maar nie ons vooroordeel nie. Ons skryf meer, maar leer minder. Ons beplan meer, maar verrig minder. Ons het geleer om te jaag, maar nie om te wag nie. Ons bou meer rekenaars om meer inligting te behou, om meer afskrifte as ooit te vervaardig, maar ons kommunikeer minder en minder.

Hierdie is die tyd van kitskos en stadige vertering, groot manne en klein karakters, skerp stygings en vlak verhoudings. Hierdie is die dae van twee inkomstes, maar meer egskeidings, luukse wonings, maar gebroke huise. Hierdie is dae van vinnige reise, weggooi doeke, weggooi moraliteit, losse verhoudings, oorgewig liggame, en pille wat alles kan doen van opbeur tot stilmaak tot doodmaak. Dis ‘n tyd wanneer daar baie in die vertoonkamervenster is, maar niks in die voorraadkamer nie. ‘n Tyd wanneer tegnologie hierdie brief aan jou kan bring, en ‘n tyd dat jy kan kies om dit met iemand te deel of dit bloot te ignoreer…

Onthou, bring tyd deur saam met jou geliefdes, want hulle gaan nie vir altyd daar wees nie. Onthou, deel ‘n vriendelike woord met iemand wat met ontsag na jou opsien, want daardie klein mensie sal gou groot word en jou sy verlaat. Onthou, gee ‘n warm drukkie aan die persoon langs jou, want dit is die enigste skat wat jy met jou hart kan gee en dit kos nie ‘n sent nie.

Onthou om vir jou metgesel en jou geliefdes te sê: “Ek is lief vir jou”, maar bowenal, om dit te bedoel. ‘n Kus en ‘n omhelsing sal die seer wegneem indien dit diep uit jou hart kom. Onthou om hande vas te hou en die oomblik te koester, want eendag gaan daardie persoon nie meer daar wees nie.

Neem tyd om lief te hê, neem tyd om te gesels. En neem tyd om jou kosbaarste gedagtes te deel.

Mobiele Etes vir die Bejaardes
Nasionale Openbare Betrekkinge Kantoor
Posbus 700, Meyerton,
SUID AFRIKA, 1960
Lewensondersteuning: 086 00 00 700
Faks: 086 76 75 019
www.mow.org.za