Die Ryk Arm Man
Die geklop was sag – so sag dat dit net-net die aandag getrek het. Ek het die deur ‘n paar sentimeter oopgemaak en het geskrik toe ek ‘n ou man in die oë kyk, ‘n baie ou man. Sy glaserige “albaster”-oë het vanuit ‘n bebaarde, diep geplooide gesig na my gekyk – maar dit was ‘n gelukkige en vriendelike gesig.

In sy hande was ‘n gevlegte mandjie met ‘n bietjie groente daarin. Hy het ons baie beleef gegroet en ons daarna genooi om van die netjiese gepakte produkte te koop.

Dit was die eerste van baie besoeke wat ons van mnr. Rainer ontvang het. Oor die volgende paar maande het ons hom nogal goed leer ken. Hoewel hy in ‘n eenvertrekwoonstelletjie in iemand se agterplaas ‘n entjie daarvandaan gewoon het, en hoewel sy lewe ‘n opdraande stryd was, het hy nooit gekla nie – en hy het nooit gebedel nie. Van die eerste dag toe ons hom ontmoet het, het mnr. Rainer se onpaar skoene en sy verslete klere hulle eie verhaal vertel.

Op een van sy laaste besoeke, kon mnr. Rainer skaars sy opgewondenheid inhou: “Die Here is so goed! Toe ek vanoggend by my huis uitgestap kom, het ek ‘n groot sak vol skoene en klere by my voordeur gevind. En weet u wat…die wonderlikste van alles is,” het hy uitasem gesê, “ek weet van so baie mense wat hierdie goed broodnodig het…

Ons het gedink mnr. Rainer sou ten minste ‘n paar skoene vir homself vat, of ‘n baadjie, of iets wat hy kon verkoop om sy eie lot in die lewe te verlig, maar nee…

…Mnr. Rainer se begrafnis is deur ‘n verbasende aantal mense bygewoon – van wie die meeste as die armstes van die armes geklassifiseer kan word. Nie een van die brandarm mense het ‘n toespraak gelewer nie, nietemin het baie van hulle as stille getuies van mnr. Rainer se vriendelikheid en liefde gedien… want ons kon nie help om op te merk dat hulle die ou skoene en die ou kledingstukke aangehad het wat ons ‘n paar weke tevore voor mnr. Rainer se deur geplaas het.

Mag jy rus in vrede, liewe mnr. Rainer. Jou vriendelikheid en jou liefde kring nog steeds uit in die lewens van andere.

Oefening vir die lewe
Luidens ‘n verslag wat deur die kantoor van die Verenigde State se geneesheer-generaal saamgestel is, het jonkbly baie te doen met hoeveel oefening ‘n mens kry. Navorsing toon dat oefening ‘n belangrike rol speel om blakende gesondheid, funksionele onafhanklikheid en lewenskwaliteit in ouer volwassenes te bevorder. Met ander woorde, dit kan daartoe bydra om die oudwordproses te vertraag deur die kanse op siekte en ongeskiktheid in seniors te voorkom of te verminder.

Vir diegene wat oud word, is hartsiekte en osteoporose belangrike bronne van kommer. Gereelde oefening, tesame met ‘n gebalanseerde natuurlike-voedseldiëet, kan nietemin ‘n belangrike rol in die voorkoming van beide hierdie kwale speel.

Hartsiekte:
In die geval van die sirkulasiestelsel, help oefening om bloeddruk te reguleer en om die goeie cholesterol (HDL) te verhoog. Oefening verminder ook vetsug, wat grootliks tot hartsiekte (en vetsug) bydra.

As jy nog nooit oefening gedoen het nie, is dit belangrik om stadig te begin. Een van die maklikste maniere van oefening is om te stap. Om elke dag 30 minute, of drie maal 10 minute lank te stap, kan help om ‘n paar jaar tot jou lewe by te voeg.

Osteoporose:
Navorsing toon dat liggaamlike aktiwiteit wat gewigsdraende oefening insluit, kan help om osteoporose te voorkom. Ouer volwassenes loop groter gevaar van osteoporose en dis beslissend dat hulle oefening doen aangesien dit hulle kanse op val verminder, met die beserings wat daarmee gepaard gaan.

In ‘n studie wat gemaak is van vroue tussen die ouderdom van 50 en 70, het die vroue wat kragoefeninge gedoen het 1% meer heup- en spinale beendigtheid gehad terwyl die groep wat nie gewigte opgetel het nie ‘n verlies van 2,5% beendigtheid gehad het. Diegene wat geoefen het, het ‘n kragtoename van nagenoeg 35% to 76% bo die kontrolegroep gehad. Balans het met 14% verbeter en algemene liggaamsaktiwiteit het met nagenoeg 27% toegeneem.

Nuwe Gesondheidsdienste
Vir die bejaardes kan besoeke aan die dokter uiters moeilik wees. Somtyds verbeur Senior Burgers noodwendig lewensbelangrike konsultasies vanweë liggaamlike ongestelhede en vervoerprobleme. Deurdat hulle die talle probleme van Senior Burgers met betrekking tot hulle mediese behoeftes maar alte goed ken, het twee Mobiele Etes-takke die uitdaging aanvaar om nie net voedsel nie, maar ook die broodnodige basiese mediese sorg en mediese sifting “op wiele” te voorsien.

Sorg op Wiele:
By ons Johannesburg-Suidtak besoek gekwalifiseerde mediese personeel op ‘n vrywillige basis huise om bloeddruk- en bloedsuikervlakke en so meer te toets, en om te verseker dat medisynes geneem word soos voorgeskryf. “Ek kon geen beter diens begeer nie,” het een sieklike oupa-grootjie gesê. “Vir drie jaar moes ek weekliks die dokter besoek en dit was altyd die verskriklikste onderneming. Dra asseblief my spesiale dank oor aan die dokters en verpleegkundiges wat vrywillig in hulle vrye tyd ons op hierdie betekenisvolle manier bystaan.”

Gesondheid op Wiele:
’n Opname in sommige van die armste gemeenskappe in die land het aan die lig gebring dat 81% van die persone onder wie die opname gedoen is primêre gesondheidsorg nodig het. In antwoord hierop het ons Tygerbergse Dienssentrum (Kaapstad) ‘n mobiele kliniek begin met die baie gepaste naam, Gesondheid op Wiele. Die kliniek se ledetal staan nou op bykans 1 300 persone – met meer as 4 000 besoeke wat alreeds tot op datum gedoen is. Elke weeksdag reis die kliniek na ‘n verskillende buurt.

Gesondheid op Wiele en Sorg op Wiele ontvang geen subsidie van die Staat nie. Weereens is dit deur die vriendelikheid en ondersteuning van kommersiële organisasies en lede van die publiek wat omgee, dat hierdie lewensbelangrike dienste bedryf kan word. Met inagneming van die pyn en die lyding wat bejaardes en armes oor die hele Suid-Afrika ervaar, hoop ons van harte dat al ons takke eendag in staat sal wees om soortgelyke dienste te lewer.

Dankie weereens vir u ondersteuning!

Internet webtuistes vir die hele gesin
Die Senior Burgers van Lavistown Middagete Klub maak hierdie items om te verkoop sodat fondse ingesamel kan word.
http://family.go.com

As jy ‘n persoon is wat groot waarde daaraan heg om as ‘n gesin dinge saam te doen, is hierdie webtuiste vir jou. Daar is allerhande soorte pretidees vir die hele gesin, en advies oor knelpunte in verband met die grootmaak van kinders.
http://www.keepwell.com

Waarom moet swak gesondheid jou lewe ruïneer? Die inligting op hierdie webtuiste het al ‘n groot aantal mense gehelp om te herstel en gesond te bly.
http://www.tipking.com

Elsiesrivier dien hulle gemeenskap
Geleë in die hartjie van een van die armste gebiede in Suid-Afrika, is die Elsiesrivier Mobiele Etes tak en -dienssentrum. Vir die afgelope 17 jaar is hierdie tak ‘n baken van lig in ‘n gemeenskap waar die lewe uiters moeilik en gevaarlik is, en waar armoede heers.

Op die dag van ons besoek was dit reënerig en koud. Nadat ons sulke verskriklike vuilheid en armoede aan die kant van die pad gesien het, kon ons nie anders as om ietwat depressief te voel nie. Toe ons by die saal instap, het ons egter ‘n totaal ander wêreld betree as die een wat ons so pas ervaar het – warm en snoesig. Senior Burgers het by tafels gesit en gesels, lag, en speletjies speel. Die heldergeel mure het die sentrum sonnig laat voel ondanks die bewolkte dag. Sagte agtergrondmusiek het gespeel.

Omring deur armoede en geweld, bied die sentrum aan talle Senior Burgers ‘n hawe van veiligheid en ‘n plek waar hulle in wisselwerking met ander Seniors kan verkeer. Behalwe die verskeie ander aktiwiteite, is die Seniors lief vir naaldwerk en om items te brei – en dring daarop aan om so ook hulle bydrae te maak. Gereelde oefeninge verseker ook dat die spiere sterk en soepel gehou word, en dat die breek van bene so voorkom word.

Die etes wat by die sentrum voorgesit word, is smaaklik en voedsaam – stewige kos, net soos die etes wat gereeld gelewer word by die huise van bejaardes, in die gebied, wat ‘n sukkelbestaan maak.

Op Maandae en Donderdae word daar ook sop aan die werkloses in die gemeenskap bedien. Die ry mense wat vir sop toustaan, strek gewoonlik halfpad om die blok. Hoewel ontbering oral te bespeur was, was dit die opregte waardering van die mense wat ons werklik getref het.

Mobiele Etes maak beslis ‘n reuseverskil in die lewens van die bejaardes wat noustrop trek en die verarmdes in Elsiesrivier – en dis slegs die gevolg van die soort ondersteuning van mense soos u.

Dankie! Dankie! Dankie!

Ter viering van die lewe
• Oumas is skraps aan kritiek en ruim aan liefde.
• Oos wes tuis bes…behalwe Ouma s’n.
• Kleinkinders laat my jonk voel. Dis om met ‘n oupa getroud te wees wat my eintlik pla.
• ’n Gesin is ‘n wêreldjie wat deur liefde geskep en met hartsnare saamgesnoer word.
• Hoe ouer die viool, hoe soeter die musiek. (C. Putnam)
• As ek geweet het hoeveel pret kleinkinders is, sou ek eers hulle gehad het!
• Kinders het nog nooit baie goed na mense ouer as hulle geluister nie, maar hulle het nooit in gebreke gebly om hulle   na te boots nie. (James Baldwin)
• Rykdom is nie ‘n saak van geld of jare nie, maar van ondervinding.
• Grootouers is maar net antieke kinders.

Mobiele Etes vir die Bejaardes
Nasionale Openbare Betrekkinge Kantoor
Posbus 700, Meyerton,
SUID AFRIKA, 1960
Lewensondersteuning: 086 00 00 700
Faks: 086 76 75 019
www.mow.org.za